tuisblad

  MEER OOR
  ons
  abbey
  meneer mack

  FOTO'S
  mense
  argitektuur
  brûe
  suid-afrika

  KONTAK
  kontak ons

Meer oor Abbey, die Aberdeen Terrier


Sesjarige Abbey is vernoem na die Aberdeen Terrier van Skotland, 'n honderas wat later bekend geraak het as die Skotse Terrier. Abbey is a groot hond wat vasgevang is in 'n piepklein lyfie, 'n dilemma wat nog meer ondraaglik gemaak word deur haar oupa se bull terrier erfenis.

Sy is 'n liefdevolle, onafhanklike hond met 'n geneigdheid om op haar eie af te dwaal. Haar wanderlus is glad nie gedemp deur haar internasionale reis van Kaapstad, Suid-Afrika, via Amsterdam, Nederland na New Jersey, VSA nie.

Na twee jaar wat sy tot in die afgrond bederf is deur my ouers, is sy finaal op 25 Oktober 2004 met ons herenig.

Abigail se Internasionale Avontuur


Om te voldoen aan die Verenigde State se doeane-vereistes, is 'n mikroskyf op 18 Oktober 2004 in Abbey ingeplant. Sy is geïmmuniseer teen hondsdolheid en ander mediese voorsorgmaatreëls is vroegtydig getref. Nadat ons veaarts haar fiks verklaar het vir die internasionale vlugte en hy Abbey se gesondheidsertifikate vir Europa en Amerika uitgereik het, het die staatsveaarts al bogenoemde inligting bevestig.


Met Abbey se gesondheidsverslae en reisdokumente in orde, was die laaste bekommernis hoe sy sou reageer op die hokkie waarin sy moes reis. Twee weke voor Abbey se vlugdatum, het Animal Travel Services haar hokkie afgelewer om haar genoeg tyd te gee om gemaklik te raak daarin. Tot almal se verbasing, was sy mal oor die hokkie en het onmiddellik - sonder enige aanmoediging - daarin geklim en geslaap.

Saterdag, 23 Oktober 2004



Op die dag wat sy sou vlieg, het my ouers Abbey (en Toffie) vir 'n laaaaannnngggg stap geneem voordat hulle haar moes groet.


Erika van Animal Travel Services het laatmiddag arriveer om Abbey op te laai vir haar middernagtelike KLM vlug. As dit nie vir Abbey se kort beentjies was nie, sou sy self binne-in Animal Travel Services se bakkie geklim het! Terwyl my pa besig was om foto's te neem om Abbey se reis vir ons te dokumenteer, het my ma doodseker gemaak dat Abbey gemaklik is en omring is deur al haar gunsteling sagte speelgoed.


Selfs Toffie was buite om te kyk waaroor al die bohaai gaan. Na 'n finale bevestiging dat haar dokumente in orde is, het Erika en Abbey in die pad geval Kaapstad Internasionale lughawe toe. Na 11 ure in die lug, is Abbey vertroetel by KLM se wêreldberoemde Dierehotel op Schiphol Lughawe. Gedurende die 24 uur wat sy daar spandeer het, kon sy eet, drink en bene rek ter voorbereiding van haar finale vlug oor die Atlantiese oseaan.

Maandag, 25 Oktober 2004



Hierdie is 'n paar van die aanwysingstekens in en om Newark Liberty Internasionale Lughawe se Noordelike Area. Dit dui Gebou 340 aan waar Abbey vir ons sou wag. Teen hierdie tyd was ons al uitasem van opgewondenheid en kon ons regtig nie meer wag vir KLM se diere hanteringsmaatskappy, Air General, om haar vir ons te bring nie. Toe ons haar uiteindelik gewaar, was sy steeds in haar hokkie. Sy het egter onmiddellik verwoed haar stertjie begin swaai toe sy ons stemme hoor.


Sy het getjank en in my arms geklim die oomblik toe haar hokkie se deur oopswaai. Sy het geen opmerklike tekens van vlugflouheid getoon nie, danksy Animal Travel Services en KLM se ervaring met die versorging van diere in transit. Die Nederlandse Koninklike Lugredery het in 1924 geskiedenis gemaak toe hulle die eerste lugredery geword het om 'n dier - 'n bul genaamd Nico - per lugvrag te vervoer. Hulle 80 jaar van ervaring wys!

Abbey het geen kalmeermiddels ontvang nie en het haar drie dae in transit soos 'n pro hanteer. Behalwe dat sy effens gedehidreer was, het sy gelyk asof sy pas 'n kort motorrit onderneem het. Ons dank aan die personeel van Animal Travel Services (veral Riekie en Erika) sowel as die KLM en Air General personeel.



Aangesien Amerika nie vereis dat honde in kwarantyn gehou moet word nie, kon ons Abbey optel binne 'n uur vanaf die tyd wat sy op Newark lughawe in New Jersey gearriveer het.

Dawid en ek kon haar vir 'n lang stappie neem rondom die Air General gebou in die cargo area terwyl haar dokumente nagegaan is. Na Dawid se vinnige besoek aan doeane, is Abbey vrygestel en kon ons haar huis toe neem om ons aangenome Scottie, Mack, te ontmoet.



Meneer Mack was aanvanklik 'n bietjie onseker, maar het vinnig sy stertjie begin swaai vir die bol wol, beter bekend as ons Abigail. Duidelik is meneer Mack, die avontuurlistige Scottie, baie opgewonde om 'n vennoot te hê wat saam met hom kan kattekwaad aanvang.

'n Groot Verandering in Lewenswêreld


Abbey is verplaas van voorstedelike saligheid na 'n plaasparadys waar sy - soveel sy wil - kan ronddwaal en ontdek. Wie weet hoe sy sal reageer op die bokkies, vosse, gophers, chipmunks, eekhorings, swart bere en ander diere wat gereeld hier op die plaas hulle verskyning maak.

Sy is mal oor oop spasie en om vry rond te hardloop, maar sy het ook 'n gawe om iets stinks te vind om in te rol; gewoonlik wanneer 'n mens dit die minste verwag.

Die onbeperkte voorraad stink goed op die plaas sal verseker unieke uitdagings tot gevolg hê. Ons wonder reeds hoe ons haar uit die moeilikheid gaan hou!

BESKERMDE AREA
  foto’s
  videos
  nuusbriewe
  brief argief


tuisblad       ons        abbey        mnr mack        mense       argitektuur       brûe      suid-afrika       kontak ons
Alle materiaal © 2004 — Alle regte voorbehou